Feedback from previous Host Families

Terugvoer van vorige Gasgesinne

Ja  – so is die maand amper al weer verby. Ons het heelwat rondgeloop en probeer om vir Saskia al die lekker dinge in die Kaap te wys:

Ons was by die Akwarium – die haaie was skrikwekkend, maar die pikkewyne was die beste!
Ons het Kampsbaai en Seepunt omgestap en roomys geeet. Kirstenbosch waar ons lekker gepiekniek het en na die pragtige uitsig gele en kyk het – ons het ons vergaap aan die pragtige proteas en fynbos en interessante broodbome.


By Spier het ons Cheetahs en volstruise gesien en lekker ge-eet in die Jonkershuis aan tradisionele Suid Afrikaanse kos en ‘n lekker warm kaggelvuur in die agtergrond.


Saskia was lekker verras om te ontdek dat Delheim Duitse eienaars het en sy het sommer daar ‘n bottel Spatzendrek gekoop om huis toe te neem nadat ons ‘n wynproe gehad het – dit was groot pret! Verder was ons vinnig by Boschendal en het deur die pragtige Franschhoek berge gery.

Saskia moes saam met ons gaan na die ATKV se finale koor gala aand in die Kaapse stadsaal waar Mia hulle se koor weer eens die gesogte algehele wenner was.Ek dink dit was dalk bietjie van ‘n kultuurskok vir haar, maar sy het dit goed hanteer. Ons het Robbeneiland besoek – ongelooflike ondervinding om in Mandela se sel te staan waar hy so lank moes bly. Gedurende hierdie uitstappie het ons ook vir prins Harry van Brittanje sien verbyloop! Hope opwinding.


Ons was by Bloubergstrand op ‘n pragtige dag en het ‘n lang ent langs die strand gestap.
Ons het in ‘n biertuin in die Waterfront Wiener Schnitzel geeet wat Saskia huis toe laat verlang het – al was daar bongo dromme in die agtergrond!
Ons het vir ure in Canal Walk rondgeloop, gefliek en uitge-eet en shopping gedoen wat baie goeie ‘retail therapy’ was!

Die laaste naweek het ons Struisbaai toe gery en ongelooflike weer gehad – suidpunt van Afrika besoek, selfs geswem in die see (het foto om dit te bewys) en lekker in die rotspoele baljaar, gebraai (al was dit hoender) en marshmallows oor die kole gesmelt, scrabble en kaart gespeel en gekyk wie kon die meeste see pampoemtjies optel! Langs die pad het ons bobbejane gesien en lekker gelag, ons het ook vars plaasbrood by die padstal gekoop wat ons met lekker botter en kaas verslind het.


Ons het natturlik ook met die kabelkarretjie teen Tafelberg uitgery. Vreeslike mooi fotos geneem van die pragtige uitsig! Daarna het ons in ‘n windstil Waterfront gaan pizzas eet met die kabbelende water wat ons almal rustig laat voel het.

Saskia het ook saam et Mia en haar vriende gaan uiteet by Buena Vista Cafe – bietjie meer van ‘n kuierplek vir die jonges. Hulle het dit vreeslik geniet al moes hulle ID’s wys om ek ‘n alkoholiese drankie te bestel en die eienaar eers wou weet of Saskia van die Rotariers se uitruilstudente was voor hulle haar wou bedien!

Ons het ook pannekoek gebak, bokdrolletjies ge-eet, melktert gemaak, piesang brood gebak en Saskia het ontdek dat sy regtig baie hou van Woolworths se Macaroni en kaas (wat haar gas-ma gemaak het toe sy nie heeltemal so wel gevoel het nie…) Ons moes ook vir haar die resep gee vir ons chocolate brownies. Daarvan het hulle al reeds 2 baksels verslind! Biltong en droewors was bietjie grillerig en Amarula heeltemal te soet. “Butternut’ is eintlik net pampoen en mens kry self Ritter en MIlka chocolates in SA!

Ek dink die skool was bietjie van ‘n teleurstelling vir haar. Alhoewel Stellenberg ‘n dubbel medium skool is praat die onderwysers maar baie Afrikaans en dit het sy regtig vervelig gevind – veral omdat sy eintlik haar Engels wou opknap. Sy het ook gesukkel om gewoond te raak aan ons vreemde Engelse aksent, maar het ewe braaf haar skooluniform angetrek. Alhoewel sy nie regtig baie spraaksaam is nie (en dis seker die enigste ding wat weer vir ons moeilik was) het sy regtig in ons harte ingekruip met haar goeie maniere en hulpvaardigheid. Ons het saam wasgoed opgevou, skottelgoed gewas en Biggest Loser op TV gekyk.

As ek sou kon kies, sou ek graag ‘n ander tyd wou kies vir die besoek. Met Mia in Matriek en die veeleisende skedule was dit maar soms moeilik om almal te akkommodeer en ma moes maar baie keer instaan. Nietemin was dit ‘n insiggewende ondervinding vir ons almal en ek is seker almal het iets hieruit geleer!

Ek hoop regtig dat Saskia dit geniet het. Toe ek haar vra wat vir haar die eienaardigste is van SA, was haar antwoord – ‘you have people who look after your cars for money, but they take no responsibility if something goes wrong!’ Sy reken ook dat Kaapstad baie soos Europa lyk en heeltemal teen haar verwagtings in was vir Afrika!

Sy neem ‘n foto vir haar ma waar sy in ons kar aan die ‘verkeerde kant’ sit – net om haar bietjie die skrik op die lyf te jaag!

Groete
Lo?s Hattingh

Hallo Suzanne

 

Dit was vir ons ‘n geweldige voorreg om vir Roman te huisves. Volpunte vir jul keuringsproses. Dit het werklik vir ons gevoel of hy een van ons eie is – baie goed aangepas en wel opgevoed. Dit was vir ons as gesin ‘n baie positiewe ervaring en het ons opvoedingsproses perfek aangevul omdat wereldwysheid een van ons strewes is vir ons eie.

 

Baie geluk met puik werk en die geleenthede wat jul vir ons jeug oopmaak. Wees verseker van ons volgehoue lojaliteit aan FSA. Sterkte met ‘n groot gewaardeerde taak.

 

Liefde
Marelie Jv Vuuren

Beste Suzanne
 
Dankie vir die brief!!! Dit was vir ons ‘n plesier en ‘n voorreg  om Leonie te kon leer ken! Ek sal nooit in woorde kan om sit hoeveel ek by haar kon leer. Ek wens net die tyd het nie so gou verby gevlieg nie!!!! Ons as gesin mis haar!!!
Jy kan verseker my brief as bewys gebruik dat die FSA program ‘n verskil in ‘n mens se lewe maak!!!
Dankie vir die voorreg om deel van die FSA projek te kan wees.
 
Groete
Simoné Pretorius

Hello Suzanne,it is Noluthando Dubazann.
I just wanted to let you know that I thank you vey much for giving us a wonderful opp. to host exchange students.
I have expierinced a lot of things with Magdalena,as a sister,a friend and apart of my family.


There is nothing i miss at this point like having her around. I miss her a lot, but atleast we still keep in contact.


Thank you for everything. God bless you

Noluthando Dubazana

Goeie dag Suzanne,
 
Jammer ek het jou gister gemis, maar ek my foon op laai gehad en ons was uit.
 
Dit gaan goed met Christiane. My swaer en skoonsuster het nog by ons gekuier hier by hulle huis in Jeffreys baai en my swaer praat darem Duits. Die dialekte verskil ‘n bietjie, maar hulle kon ook darem praat.
 
Haar engels is baie goed en waar ons nie verstaan help almal haar sodat ons weet waarvan sy praat.
 
Ons het Vrydag die Ocenarium, museum en reptielpark besoek in Port-Elizabeth.
 
Christiane het ‘n ligte verkoue opgedoen, maar gebruik medikasie wat sy saam gebring het. Ek dink die verlange na haar ouers was groot, want sy het sommer so opgehelder toe sy vandag vir die eertste keer ‘n e-pos van haar ouers gekry het. Hulle weet nie hoe die rekenaar werk nie dus moet die boetie hulle help, maar die was in die hospitaal, maar die verduidelikking was nie baie goed nie en het sy nog inligting aangevra.
 
Verder geniet sy alles, probeer alles en leer sy baie. Sy is ‘n baie slim meisie.
 
Ek heg vir jou ‘n foto aan waar sy by ‘n skilpad sit oppad na Jeffreys.
  
Groete
Heleen du Plooy